Wie is ons?

About Page Juff Linky Heart
About Page Hen

Ons is ‘n mamma-en-pappa-span met drie klein kindertjies. Met ons kanaal wil ons die Afrikaanse taal en kultuur lewendig hou deur Christelike waardes, goeie maniere en suiwer taal te bevorder.

Ons glo dat Afrikaans ‘n kosbare erfenis is wat die lig van hoop en identiteit dra vir geslagte wat kom. Deur stories, musiek en speelse leer wil ons kinders trots maak op hul taal en geskiedenis, en ouers gerusstel dat hulle kinders inhoud kyk wat opbouend en gesond is. Ons droom is dat elke Afrikaanse kind kan grootword met liedjies, stories en waardes wat hulle verbind aan hul wortels, maar wat hulle ook voorberei om met selfvertroue in die wêreld in te stap.

Juffrou Linky is meer as net ‘n program, dit is ‘n viering van ons mense, ons geloof en ons toekoms. Ons wil Afrikaanse gesinne hoop gee dat hul unieke identiteit en tradisies nie net behoue bly nie, maar nuwe lewe kry deur elke video wat ons skep.

Juffrou Linky

Linky is die gesig van die Juffrou Linky program. Sy is ‘n mamma van drie en het ‘n groot liefde vir kinders en vir leer. Sy het ‘n BA-graad in Drama van die Universiteit van Pretoria en ‘n Meestersgraad in Opvoedkunde van die Universiteit van Essex, London. Hierdie unieke kombinasie van drama en opvoedkunde gee haar die vermoë om opvoeding lewendig, kreatief en toeganklik vir kinders te maak.

Voor sy ‘n YouTube-juffrou was, het Linky haar loopbaan begin deur die land te toer met kinderteaterproduksies. Sy het ook as kleuterskooljuffrou in die buiteland gewerk en vir byna ‘n dekade kinders bekendgestel aan die onderwaterwêreld as ‘n skubaduik instrukteur.

Saam met Retief skryf sy al die liedjies en is sy verantwoordelik vir die vervaardiging daarvan. Haar passie is om kinders te inspireer en ouers te ondersteun.

About Page Juff Linky Smile
retief

Retief

Retief is die regisseur en redigeerder van die Juffrou Linky program. Hy is ook mede-skrywer van die inhoud, vertolk die geliefde karakter Frikkadel en spring graag in om seerowers te speel of selfs Linky se gesig te poeier voor ‘n opname. Sy kreatiwiteit en vermoë om deur die lens van ‘n kind te kyk en detail raak te sien wat ander dalk miskyk is die “magic” wat hy na elke projek bring.

Retief het ‘n BA(HONS) graad in Filmstudies en Nuwe Media aan die Universiteit van Pretoria voltooi. Tydens sy studentejare was hy ‘n radio-omroeper by TuksFM en later ook by Highveld. Sy loopbaan voor die kameras sluit in rolle in 7de Laan, Phil 101, Bloedbroers, Sterlopers en ‘n hoofrol in Binnelanders.

Vandag is hy nie net ‘n besigheidsvennoot nie, maar ook haar man wat sy unieke kreatiewe energie gebruik om die Juffrou Linky-wêreld vir kinders lewendig en onvergeetlik te maak.